Seksuele teistering in universiteits - verband: Juridiese
kantaantekeninge *
2000 Stell LR 115
JMT Labuschagne
MA DPhil LLD
Professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van Pretoria
Artikel opgedra ter nagedagtenis van Professor MP Vorster
(23 Julie 1937–27 Oktober 1993)
Sy integriteit, deernis, beskeidenheid en skerpsinnigheid het ’n groot indruk
agtergelaat, in besonder by diegene wat oor ’n lang tydperk nóứ met hom
saamgewerk en saamgeleef het: ’n seldsame en beminde mens wat ’n saluut
verdien.
1. Inleiding
Uit die feitestelle van twee onlangse hofsake, een uit die VSA en die ander pl aaslik,
word die juridiese aard en problematiek van seksuele teistering, soos dit in hoofsaak
in universiteitsverband manifesteerbaar is, duidelik geïllustreer. In die saak Petrone
v Cleveland State University 1 wat voor ’n federale distrikshof in die VSA, naamlik
die United States District Court, ND Ohio, Eastern Division, gedien het, het die
volgende feitestel na vore getree: Die eiseres, Margaret Petrone, het ’n eis ingestel
teen dr Robert Kurtz, wat in ’n toesighoudende posisie by die Cleveland State
University (CSU) Counselling Center werksaam was, asook teen die CSU as
werkgewer van dr Kurtz. Sy het naamlik aangevoer dat sy in stryd met Titel IX van
die Education Amendments of 1972 2 seksueel geteister is. Sy het ook ’n eis ingestel
in ooreenstemming met ander VSA-wetgewing 3 en aangevoer dat verweerders haar
privaatheid en billike prosesregte, asook haar reg op gelyke behandeling voor die
reg, geskend het. Sy het daarbenewens ook sekere eise, wat anders as
bogenoemde eise wat op die federale reg gebaseer is, ooreenkomstig die reg van
die staat Ohio ingestel. Ten tyde van die gebeure wat tot dié eise aanleiding gegee
het, was sy ’n 33-jarige PhD-student in die psigologie aan die Kent State University.
As deel van haar doktorale studieprogram moes sy ’n praktiese sessie by ’n ander
instelling deurmaak. Gedurende die 1995–1996 akademiese jaar het sy vir die doel
na die CSU Counselling Center gegaan. Dié program in dié verband het ingesluit die
spreek van kliënte
* Dank word hiermee uitgespreek teenoor die Universiteit van Pretoria wat my finansieel in staat gestel
het om ’n deel van dié navorsing in 1998 aan die Northwestern University (Chicago, Illinois) in die VSA te
kon onderneem. ’n Verdere deel van dié navorsing is in 1999 met die finansiële steun van die Alexander
von Humboldt-Stiftung en die Universiteit van Pretoria aan die Ludwig-Maximilians-Universität in
München (Duitsland) moontlik gemaak. Die menings hierm uitgespreek word egter nie noodwendig deur
hierdie instansies gedeel nie.
2000 Stell LR 116
onder individuele- en groepstoesig, asook die bywoon van seminare. Gedurende die
eerste semester het dr Janilee Wheaton as haar toesighouer opgetree, maar
gedurende die tweede semester het sy op dr Kurtz se uitnodiging na hom
oorgeskakel. Gedurende hierdie semester het dr Kurtz haar as’t ware romanties
agtervolg deur haar vir etes en wandelinge uit te vra en vir haar romantiese gedigte
en notas, asook ’n boek getiteld How to make love at all times te gee. Hy het verder
vir haar ’n foto van ’n rots, waarop hy en sy vrou na bewering geslagsomgang
1 993 F Supp 1119 (ND Ohio 1998). Sien ook die gevallestudies opgeneem in “Anonyme Berichte von
Betroffenen über sexuelle Belästigungen” in Bussmann & Lange (reds) Peinlich berührt. Sexuelle
Belästigung von Frauen an Hochschulen (1996) 36–49.
2 20 USC par 1681 et seq.
3 42 USC par 1983.
(2000) 11 Stell LR 115
© Juta and Company (Pty) Ltd
gehad het, getoon. In stede van haar kliënte met haar te bespreek, het hy sy liefde
vir ’n oudstudent en sy huweliksprobleme met haar bespreek. By geleentheid het hy
sy hand op haar knie geplaas en teen haar been opgeskuif, waarop sy opgestaan en
op ’n ander stoel gaan sit het. Aan die einde van die semester het sy ’n goeie
evaluering van dr Kurtz ontvang. Ongeveer 2 maande nadat sy die CSU verlaat het,
het sy ’n brief van horn ontvang. In dié brief het hy erken dat hy vroeër ’n
verhouding gehad het met ’n student wat haar internskap by hom gedoen het. Die
eiseres het hierdie brief en haar ondervindinge met dr Kurtz vervolgens met senior
lede van die CSU Counselling Center bespreek. Dr Kurtz het, voortvloeiend hieruit,
in Januarie 1997 sy bedanking ingedien. Dit is kortliks die relevante feite waarop die
federate distrikshof ’n beslissing moes gee.
In die Suid-Afrikaanse saak, naamlik Reddy v University of Natal, 4 wat voor die
arbeidsappélhof gedien het, was die relevante feite kortliks soos volg: R, die
appellant, was as veiligheidsbeampte by die Universiteit van Natal werksaam. Een
van sy ondergeskiktes was ’n sekere mevrou AY David (hierna: D). Op 12 Julie 1995
het laasgenoemde ’n klagte van seksuele teistering teen R gelê. R is dissiplinêr
verhoor en vir onder andere die klagte van seksuele teistering ontslaan. Teen dié
optrede het R hom tot die arbeidshofstruktuur, waarvan die arbeidsappélhof die
finale hof is, gewend. Di e relevante feite rondom die klagte van seksuele teistering,
waartoe die onderhawige bespreking beperk is, is die volgende: D was gedurende
die nagskof van 11/12 Julie aan diens. R, die skofopsigter, het egter nie vir diens
aangemeld nie. Hy het ongeveer 10 uur by die kontrolekamer, waar D aan diens
was, opgedaag. Hy was nie in sy uniform geklee ni e en was opsigtelik beskonke. Hy
het haar omhels en probeer soen. Sy het sy aanmatighede weerstaan, maar hy het
hom nie daardeur van stryk laat bring nie. Hy het by geleentheid op haar skoot
gesit. Sy het vervolgens ander veiligheidswagte na die beheerkamer ontbied. Drie
van hulle het met tussenposes daar aangekom. Hoewel sy nie teenoor hulle gekla
het nie, en R nie sy pogings gestaak het nie, het sy veiliger in hulle teenwoordigheid
gevoel. R het eers vier uur later vertrek. D het di e volgende dag ’n klagte oor R se
gedrag gelê en ’n volledige verklaring afgelê oor die vernedering wat sy ondergaan
het.
Hierdie twee sake illustreer die tipiese regsproblematiek wat ten aansien van
seksuele teistering in universiteitsverband kan voorkom. In die Suid-Afrikaanse saak
het mens te make met seksuele teistering soos
2000 Stell LR 117
dit daagliks binne arbeidsregtelike werkgewer-werknemer-verband voorkom. Dit
geld vir beide die akademiese en nie-akademiese werknemers. Die Amerikaanse
saak illustreer die uniekheid van ’n universiteit, asook ander (veral hoër)
opvoedkundige instellings, in onderhawige verband. Seksuele teistering kan naamlik
ook voorkom in die dosent-student-verhouding, wat, hoewel dit nie ’n werkgewer-
werknemer-verhouding daarstel nie, ’n magsverhouding is wat vir misbruik vatbaar
is. Seksuele teistering van ’n student deur ’n ander werknemer van ’n universiteit of
deur ’n medestudent word vir onderhawige doeleindes daar gelaat. 5
Nieteenstaande die feit dat die sosio-ekonomiese en -juridiese status van vroue
in ’n dinamiese proses van verandering verkeer en hulle in ’n toenemende mate tot
alle fasette van die arbeidsmark toetree, het sekere tradisionele stereotipes oor
hulle plek en funksie in die breëre gemeenskapsopset, en veral in arbeidsverband,
behoue gebly. 6 Hierdie toedrag van sake, en in besonder ook die vrou se seksuele
persepsies en vrese wat hierdie stereotiperinge meebring, het mettertyd ’n ander
4 1998 19 ILJ 49 (LAC).
5 Hunter & McClelland “Honoring accounts for sexual harassment: A factorial survey analysis” 1991 Sex
Roles 725.
6 Conway “A view against strict employer liability under title VII for sexually offensive work environment
created by supervisory personnel: Mentor Savings Bank v Vinson” 1987 Dickenson LR 1157.
© Juta and Company (Pty) Ltd